Kerk en samelewing konferensie
'n Terugblik, ’n gesprek en ’n soeke na ’n profetiese publieke getuienis
Van 17 tot 19 Maart 2026 word predikante, gemeenteleiers en navorsers genooi na ’n besondere Kerk en Samelewing-konferensie by NG Kerk Stellastraat Gemeente in Pretoria. Hierdie byeenkoms bied ruimte om saam terug te kyk op die NG Kerk se pad oor die afgelope 40 jaar, en om nuut te besin oor die kerk se roeping tot ’n geloofwaardige, profetiese en publieke getuienis in ons tyd.
Oor dekades heen het Kerk en Samelewing diep spore in die lewe van die kerk gelaat. Besluite en prosesse wat in die 1970’s en 1980’s geneem is, word vandag steeds in ons land uitgeleef — soms met vrug, ander kere met spanning.— veral wanneer gemeentes en kerkleiers probeer onderskei hoe om getrou en verantwoordelik in ’n veranderende samelewing te leef.
Hierdie konferensie skep ’n ruimte om eerlik te luister, saam te onthou, en nuut te onderskei: Hoe het ons hier gekom, en hoe gee ons vandag gestalte aan ’n geloofwaardige publieke getuienis?
’n Program wat luister, onthou en onderskei
Die konferensie strek oor drie dae, elk met ’n duidelike fokus en ritme.
Dag 1: 1974–1994 | Die pad na Kerk en Samelewing
Dinsdag 17 Maart fokus op die aanloop tot en die onmiddellike nadraai van Kerk en Samelewing.
Die oggend bestaan uit twee plenêre sessies:
-
Prof. Piet Meiring reflekteer oor die periode 1974–1986, gevolg deur ’n paneelgesprek.
-
Dr. Gideon van der Watt neem die gesprek verder na die jare 1986–1994, ook met paneelrespons.
In die middag word die temas verder verdiep in wegbreeksessies, aangebied deur die ATLAS- en Navorsingstaakspanne, waar deelnemers saam kan dink oor geskiedenis, hermeneutiek en beleefde spanninge.
Dag 2: 1994–2025 | Onlangse geskiedenis en publieke getuienis
Woensdag 18 Maart skuif die fokus na die kerk se pad ná 1994 en die vrae wat vandag na vore kom.
-
Prof. Nelus Niemandt gee ’n oorsig oor die onlangse fase (1994–2025) en die maniere waarop Kerk en Samelewing steeds in kerklike prosesse en debatte deurwerk.
-
Past. Thandanani Savhasa bring ’n belangrike buitestem in gesprek met die NG Kerk oor die pad vorentoe en publieke getuienis in 2026 en verder.
Die middag se wegbreeksessies, aangebied deur Miga 6:8 en Ekumene, bied ruimte vir gesprek oor versoening, geregtigheid, ekumeniese verhoudinge en die kerk se roeping in die samelewing.
Dag 3: Akademiese konferensie
Donderdag 19 Maart neem die vorm aan van ’n akademiese konferensie met kort referate en gesprek.
Navorsers en praktisyns lewer 20-minute aanbiedings, gevolg deur respons en vrae. Hierdie dag bied die geleentheid om die gesprek te verdiep, nuwe perspektiewe te dokumenteer en by te dra tot verdere navorsing en publikasie (sien die call for papers aan die einde van die artikel).
Deelname aan Dag 3 is opsioneel, en veral relevant vir predikante, studente en navorsers wat akademies by die tema betrokke is.
Vir wie is hierdie konferensie?
Die konferensie is gerig op:
-
Predikante
-
Gemeenteleiers
-
Teologiese studente en navorsers
-
En almal wat ernstig wil nadink oor die kerk se publieke roeping in Suid-Afrika vandag
Praktiese inligting
-
Datums: 17–19 Maart 2026
-
Plek: NG Kerk Stellastraat gemeente, Pretoria
-
VBO-punte: 20 vir die eerste twee dae, 30 indien al drie dae bygewoon word
-
Koste:
-
2 dae: R450 per persoon
-
3 dae: R675 per persoon
-
-
Spesiale dieetvereistes: sal by registrasie aangedui kan word
-
Registrasie: via GoogleForm | https://forms.gle/qrdpMHHCt87VPYAJA
Hierdie konferensie is nie ’n poging om maklike antwoorde te gee nie, maar ’n uitnodiging tot dieper luister, eerlike gesprek en verantwoordelike onderskeiding. Ons glo dat die kerk se geheue, pyn, groei en hoop juis hier saamkom — ter wille van die toekoms.
Uitnodiging vir referate vir die 19de Maart
Jy word hartlik uitgenooi na ’n besondere Kerk-en-Samelewing konferensie van 17–19 Maart 2026, waar ons saam terugkyk op die pad wat die kerk oor die afgelope 40 jaar gestap het. Die konferensie word aangebied in samewerking met die Algemene Sinode se Taakspanne, Excelsus en die Fakulteit Teologie en Relgie van die Universiteit van Pretoria. Tydens die konferensie fokus ons op die aanloop tot 1986, belangrike besluite wat in Kerk en samelewing vervat is, die teologie van Kerk en Samelewing en die gevolge van dié belangrike wending op die reis van die NGK.
Die eerste twee dae, van die konferensie.17-18 Maart, bestaan uit hoofsprekers en paneelgesprekke in die oggend en werkswinkels in die middag, waar ons luister na verskillende generasies en tradisies, die pyn en groei op die reis van die NGK en verken ons hoe ons vandag oor hermeneutiek, geregtigheid en openbare getuienis praat.
Die derde dag, 19 Maart neem dan die vorm aan van ’n kort akademiese konferensie, wat betaan uit 20-minute referate met 10 minute gesprekvoering aan die einde van elke referaat. ‘n Spesiale akademiese publikasie in Verbum et Eccelesiae kan moontlik volg.
Die konferensie vind plaas by NG Kerk Stellastaat gemeente in Pretoria.
Jy is welkom om enige tema wat met Kerk en Samelewing verband hou, voor te stel as ‘n tema vir jou referaat. Stuur asseblief jou voorstel, met ‘n paragraaf van nie meer as 100 woorde, voor of op 28 Februarie 2026 aan my by: johan.vdmerwe@up.ac.za
Skakel my gerus vir enige navrae by 082 565 3768
Papers in English are also welcome.
Vriendelike Groete
Johan van der Merwe
