Toekomstige moraliteit?
Roetemerkers vir etiese besluitneming in die 21ste eeu
Vanuit die Sistematiese Teologie fasiliteer Prof. Tanya van Wyk hierdie webinaar.
19 Februarie, 9:00 - 16:00
Die wêreld is besig om blitsvinnig te verander – so vinnig dat dit vir ons ʼn uitdaging is om na te dink oor die wyse waarop ons behoort te reageer en op te tree. Hierdie pas van verandering gaan gepaard met toenemende polarisering ten opsigte van verskeidenheid: verskeidenheid van die mensdom en ʼn verskeidenheid van opinies en perspektiewe. Onverdraagsaamheid en ʼn gebrek aan ʼn konsekwente etiese besluitnemingsproses, veroorsaak toenemende konflik, hetsy tussen nasies, of tussen mense, binne in ʼn huisgesin of ʼn geloofsgemeenskap. Die toekoms kom nader en op ʼn manier gaan dit ons konfronteer met uitdagings wat ons nog nie eers die verwysingsraamwerk het nie – daarom val ons moontlik terug op bekende en moontlik geykte binêre benaderings tot etiese kwessies. Ons weet dat ons geloofsgemeenskappe soms die slagveld word van ons etiese uitdagings.
Tydens ʼn daglange werkswinkel sal ons die saak van “toekomstige moraliteit” en die wyse waarop ʼn etiese besluitnemingsproses kan verloop, saam deurdink. Die doel van die werkswinkel is om ʼn paar roetemerkers te bied oor die waarde van etiek vandag, ʼn verwysingsraamwerk te bedink vir etiese kwessies van die 21ste eeu en ʼn paar hulpbronne vir elke dag se debatvoering aan te verskaf.
Die werkswinkel word aangebied deur Prof Tanya van Wyk. Dit sal ʼn lesing insluit deur Dr Marian Simion, ʼn navorsingsgenoot van Prof van Wyk, oor etiese kwessies rondom die regverdiging van oorlog.
Raamwerk:
• Inleiding: Wat is die etiese kwessies van die toekoms?
• Deel 1: Wat is etiek, en hoe hou dit verband met moraliteit?
• Deel 2: Hoe lyk ʼn etiese besluitnemingsproses?
• Deel 3: Hoe maak ons in die Kerk met ʼn verskeidenheid van (etiese) opinies? / Die rol van teologiese etiek in interaksie met Tracy se “three publics”: universiteit, kerk, gemeenskap
• Deel 4: Publieke lesing: ʼn Etiese besinning oor die “regverdiging van oorlog” (Simion-lesing sal in Engels aangebied word)

Prof Tanya van Wyk is tans die hoof van die Departement Sistematiese en Historiese Teologie van die Fakulteit Teologie en Religie, aan die Universiteit van Pretoria (UP). Sy is sedert 2018 voorsitter van die Fakulteit se Navorsingsetiek-komitee en tans ook hoof van UP se vroue leierskapsprogram. Sy is ‘n rubriekskrywer vir Netwerk 24.
Dr Marian Simion is die Direkteur van die “Institute for Christian Peace Studies”, gesetel aan die Harvard Divinity School (HDS), Harvard Universiteit, Boston. Sy akademiese agtergrond sluit ‘n PhD in politieke wetenskap in, met ‘n MDiv-graad wat hy aan die Harvard Universiteit behaal het.