
Mentorskap 2026: ’n Reis van Vervulling, Balans en Groei
Wat het ’n predikant regtig nodig om te floreer?
In ’n bediening waar verwagtinge hoog en ritmes intens is, ontdek ons al hoe meer dat kennis alleen nie genoeg is nie. Ons het mense nodig wat saam met ons kan dink, luister, vrae vra – en ons help om dieper te leef uit ons roeping.
Daarom loods Excelsus in 2026 ’n gestruktureerde Mentorskapprogram wat strek van April tot November. Hierdie program is in KZN se sinode deur Ds. Lerisa Meyer en Prof. Barry Tolmay ontwikkel en ons is opgewonde om dit ook vir ander sinodes bekend te stel. Barry en Lerisa anker die leergemeenskap waar verskeie ander aanbieders ook bydraes tot die leergemeenskap maak.
Waarom mentorskap?
’n Mentor is nie ’n terapeut of ’n bestuurder nie.
’n Mentor is ’n medereisiger – iemand wat jou help om jou volle potensiaal te bereik deur ervaring, wysheid en eerlike gesprek.
Mentorskap skep ruimte vir:
-
Vaardigheidsontwikkeling
-
Effektiewe kommunikasie en konflikhantering
-
Emosionele intelligensie
-
Leierskap wat begelei eerder as beheer
-
Gewoontes wat geloof vorm
-
’n Kultuur van vertroue en deernis
-
Hernude toewyding aan jou roeping
Hoe lyk die reis?
Die program begin met ’n aanlyn afskopsessie op 8 April 2026 waar ons fokus op identiteit en roeping.
Hier ontmoet mentees mekaar, leer wat mentorskap is (en wat dit nie is nie), hoor getuienisse, en begin die proses om ’n mentor te vind wat by hulle pas.
Deur die jaar volg maandelikse temas wat aanlyn aangebied word:
-
Kommunikasie & BRAVING-beginsels van vertroue (12 Mei)
-
Emosionele Intelligensie (2 Junie)
-
Leierskap as begeleiding (28 Julie)
-
Geloofsvorming en gewoontes (18 Augustus)
-
Vaardigheidsontwikkeling & soft skills (8 September)
-
Roetemerkers en oorgange in roeping (13 Oktober)
Die reis sluit 5 November af waar groei gevier en roeping herbevestig word.
’n Reis van kop, hart en hande
Hierdie mentorskap fokus nie net op tegniese vaardighede nie. Dit bring kop, hart en hande saam. Dit help predikante om nie net te oorleef nie, maar te floreer.
Ons glo mentorskap is een van die beste beleggings wat ’n leraar in hulself kan maak – en een van die grootste gawes wat die kerk aan haar leiers kan gee.
Boekmerk solank die datum van die afskop wat 8 April is. Die reis vir die jaar kos R650. Gebruik die skakel hieronder om te registreer.

