Gereelde vrae

Vrae oor VBO, kortliks beantwoord.

Punte, registrasie, opnames en die VBO-vorm – die vrae wat ons die meeste kry. Kry jy nie jou antwoord nie? Skryf aan Rika by excelsus@up.ac.za.

VBO-punte

Hoeveel VBO-punte moet ek elke jaar hê?

Dit hang af van jou kode by die Algemene Bevoegdheidsraad (ABR). Die meeste voltydse predikante, proponente, standplaasleraars en beroepe diensleraars het 50 punte per jaar nodig; tentmakers, deeltydse leraars en werksame emeriti 30, en bedienaars 25. In die eerste drie jaar ná legitimasie geld ’n hoër getal. Sien die tabel per bedieningskode.

Hoe word VBO-punte bereken?

Een uur aktiewe leer is een VBO-punt, tot die maksimum per tipe VBO. Punte word oor ’n siklus van drie jaar bereken, en minstens 20 punte moet by interaktiewe kontakgeleenthede verdien word. Sien waar jy punte kan verdien.

Hoe gaan ek my VBO-punte na?

Jou punte staan op jou persoonlike profiel op die NG Kerk se databasis by kerkdata.org. Jy het geen wagwoord nodig nie – net die e-posadres waarmee jy by die ABR geregistreer is. Stap vir stap.

My e-posadres word nie herken nie. Wat nou?

Waarskynlik is ’n ander e-posadres by die ABR geregistreer. Skryf aan die ABR by bevoegdheid@ngkerk.org.za om dit by te werk, en probeer dan weer.

’n Kursus of my punte ontbreek op my profiel.

Skryf aan Rika van Rensburg by excelsus@up.ac.za. Noem die kursus, die datum en die e-posadres van jou profiel.

Kry ek punte vir ’n kursus by een van julle vennote?

Ja, vir geleenthede van vennote wat vir VBO erken is. Kontak Excelsus by excelsus@up.ac.za sodat ons die punte kan laai.

Ek is nie in een van julle sinodes nie. By wie kry ek hulp?

Excelsus bedien Hoëveld, Goudland, Oostelike, Noordelike, KwaZulu-Natal en Noord-Kaap. Didasko (Vrystaat), Communitas (Wes-Kaap) en die Oos-Kaap het elk ’n eie kontakpersoon. Sien wie om te kontak.

Registrasie en betaling

Hoe registreer ek vir ’n leergeleentheid?

Kies ’n geleentheid op die program en klik op “Registreer”. Waar daar ’n fooi is, betaal jy daarna aanlyn via Quicket. Die skakel of besonderhede kom per e-pos.

Kan my gemeente betaal?

Ja. Volgens die Kerkorde is kerkrade medeverantwoordelik vir die bedieningsontwikkeling van predikante en kan hulle daarvoor begroot. As koste vir jou ’n struikelblok is, praat met Rika – geld moet nie keer dat iemand leer nie.

Hoekom is daar ’n koste?

Die fooi gaan grootliks na ’n honorarium vir die aanbieder, en help om die sessie te reël en op te neem. Dit is nie baie nie, maar so probeer ons iets bydra vir die tyd en kundigheid wat ’n aanbieder met ons deel.

Hoekom betaal ek as die opname ná ’n jaar gratis is?

In die eerste jaar dra die deelnemers die koste van die sessie. Wie dan betaal, neem lewendig deel: jy kan vrae vra, saam gesels en die sessie tel as interaktiewe kontaktyd vir jou VBO. Jy kry ook die opname dadelik. Ná ’n jaar maak ons die opname gratis oop vir almal, as ’n bydrae tot die hele kerk se leer.

Hoeveel verlof kry ek vir VBO?

Volgens Reglement 20 van die Kerkorde gee kerkrade 6 tot 12 kalenderdae per jaar verlof vir bedieningsontwikkeling.

Hoe kry ek ’n leergeleentheid in my kalender?

Elke geleentheid op die program het ’n eie bladsy met knoppies vir Google-, Outlook- en Apple-kalender. Klik op die titel van die geleentheid, of op “Kalender” in die program.

Opnames en VBO-vorm

Kan ek ’n opname kyk as ek nie kon bywoon nie?

Ja. Opnames ouer as ’n jaar is oop vir almal en speel direk in die webinaarbiblioteek. Vir opnames van die afgelope jaar skryf jy aan Rika by excelsus@up.ac.za; sy stuur die skakel.

Kry ek VBO-punte vir ’n opname?

Ja. Kyk die volledige opname en vul daarna die VBO-refleksievorm in. Ons gaan dit na en laai jou punte.

Wat vra die VBO-refleksievorm?

’n Paar kort vrae oor wat jy geleer het: jou belangrikste insig, hoe dit jou in jou bediening help, een konkrete stap vir die volgende maand, en hoe jy dit met jou kerkraad of span gaan deel. Dit neem omtrent tien minute.

Nuusbrief en kontak

Hoe hoor ek van nuwe leergeleenthede?

Teken in op die Excelsus-nuusbrief onderaan enige bladsy. Ons stuur nuwe geleenthede, opnames en VBO-nuus een keer per maand.

Met wie praat ek as ek ’n vraag het?

Rika van Rensburg is jou eerste kontak vir registrasie, opnames, VBO-vorms en punte: excelsus@up.ac.za. Sien die kontakbladsy.

Nog ’n vraag?

Ons help graag

Rika van Rensburg is jou eerste kontak vir registrasie, opnames, VBO-vorms en punte.