Afgehandel · Opname oop vir almal

Nabetragting · Praktiese Teologie

Die pastor in ’n eeu van egtheid.

’n Terugblik op die leerdag saam met dr. Gerrie Bodenstein. Hoekom voel die dominee vandag soms soos ’n tiekieboks? En kan wag dalk die mees relevante ding wees wat ons doen?

13 Augustus 2026Dr. Gerrie BodensteinEtosPraktiese Teologie

Waaroor dit gegaan het

’n Tiekieboks op die hoek?

Gerrie het die dag met ’n ongemaklike prentjie begin. Dominees is vandag soos ’n tiekieboks. Niemand is kwaad vir hulle nie. Ons is selfs ’n bietjie nostalgies oor hulle. Maar niemand organiseer meer sy lewe rondom een nie. Mense kom kerk toe met ’n stootwaentjie, ’n troukar of ’n lykswa, en dan weer met Kersfees.

Ek kon sien hoe kollegas op die Zoom-skerm knik. Ons ken die Sondagmiddag-oproep oor ’n krisis wat twee dae later gekanselleer word. Ons ken die vraag by die kerkraadsvergadering: wat gaan jy doen om die jeug terug te kry?

Gerrie het sy PhD oor juis hierdie spanning geskryf. Sy groot gespreksgenoot is Charles Taylor se A Secular Age, saam met Andrew Root, Hartmut Rosa en ou vriende soos Henri Nouwen en Eugene Peterson. Hy het ons vooraf gewaarsku: jy stap nie hier weg met vyf punte vir Sondag nie. Ons het eerder saam na die fondasie onder ons voete gekyk. Dit was ’n ryk dag.

Die pastor in ’n eeu van egtheid, dr. Gerrie Bodenstein, aangebied op 13 Augustus 2026, opname oop vir almal

Die opname

Kyk die leerdag

Die opname is oop vir almal. Kyk dit alleen, of saam met jou span of kerkraad. Elke sessie staan goed op sy eie.

Klaar gekyk? Vul die VBO-refleksievorm in.

Jou VBO-punte word eers gelaai nadat jy die vorm ingevul het. Dit neem omtrent tien minute: jou belangrikste insig, hoe dit jou bediening help, en een konkrete stap vir die volgende maand.

Vul die VBO-vorm in

Vier sessies, een reis

Van tiekieboks tot vinger na die maan

1

Hoe het ons hier gekom?

Die dominee het nie eendag kant en klaar op die toneel verskyn nie. Gerrie het ons deur vyf eeue geneem: die priester in ’n betowerde wêreld vol geeste, die prediker van die Reformasie, die geleerde en volksopvoeder wat skole help stig het, die professionele man in die toga, die mobiliseerder van ’n volk. Elke tydperk het ’n rol bygevoeg. Niks is weggevat nie.

So word die dominee ’n duisendpoot: prediker, bestuurder, berader, gemeenskapswerker en lewensafrigter. Geen wonder ons weet soms nie meer wat die kern is nie. In Suid-Afrika het die NG Kerk die hoogtepunt van invloed eers in die 1960’s bereik en dit ná 1994 vinnig verloor. Baie van ons nostalgie kom uit daardie jare.

2

Watter wêreld is hier?

Sedert die 1960’s leef ons in wat Taylor die eeu van egtheid noem. Jy ontvang nie meer jou identiteit nie. Jy kies dit, en jy wys dit vir ander. Die klankbaan is “This is me” en “Let it go”. Geloof word een opsie op ’n groot mark: ’n bietjie Jesus, ’n bietjie yoga en ’n bietjie enneagram in dieselfde sakkie. Iets werk vir jou totdat dit nie meer werk nie.

En tog voel hierdie wêreld vir baie mense plat. Is dit nou al? Ons land is vol soekers. Dit is goeie nuus vir ’n kerk wat weet wie hy is.

3

Hoe probeer ons maak?

Wanneer die getalle daal, raak ons angstig. Dan hang daar drie baadjies gereed: die CEO-dominee wat ’n organisasie bestuur, die pragmatiese prediker met vyf wenke vir Maandag, en die celebrity-dominee wat self die trekpleister word. Al drie werk. Dit maak hulle so aantreklik.

Gerrie het gevra teen watter prys. God word ’n produk wat ons help om relevant te bly, ’n hospitaal wat jy net besoek as jy Hom nodig het. En op daardie speelveld sal daar altyd beter bestuurders, terapeute en influencers wees as ons. Ek het myself in meer as een baadjie herken.

Ons hoef nie God te laat gebeur nie. Ons moet leer sien waar God reeds gebeur.

4

’n Ander manier

Hier het die dag gedraai. Relevansie is volgens Gerrie ’n simptoom. Die eintlike krisis is of ons nog ’n lewende God verwag wat optree. Ons glo God red die kerk, en dan bestuur ons dit asof ons dit moet red.

Sy alternatief is die afwagtende pastor. Hierdie wag is aktief, soos die vinger wat na die maan wys. Jy preek, besoek, vergader en bid steeds. Jy doen dit met die verwagting dat God Homself in die gewone sal wys. Taylor help ons met die onderskeid: om te floreer kan sonder God. Volheid kan nie.

Om te oefen

Vier plekke om saam te wag

Gerrie het gesê die roeping van die dominee is nie vuurpylwetenskap nie. Ons moet weer die eenvoudige dinge doen. Kies een van hierdie vier vir die volgende maand.

  • Wag in lyding: Sit by die hospitaalbed sonder om die stilte vol te praat. Job se vriende was op hulle beste toe hulle net daar gesit het. Gerrie het Nadia Bolz-Weber se storie vertel van die verpleegster in die traumakamer wat vir die jong kapelaan sê: jou werk is om bewus te wees van God se teenwoordigheid terwyl ons ons werk doen.
  • Wag in gebed: Bid minder soos ’n inkopielys en meer soos iemand wat luister. Eugene Peterson het teen die einde van sy bediening gesê hy wil sy mense leer bid, en saam met hulle bid.
  • Wag in die erediens: Ontrommel die diens. Johan Cilliers noem die erediens ’n swanger ruimte, vol verwagting. Gerrie se mooiste oomblik by ’n groot sangdiens was ná die tyd, toe ’n dogtertjie saam met die orkes op die tromme kom speel het terwyl hulle oppak.
  • Wag in verhoudings: Verhoudings is self die bediening. God ontmoet ons by die klanktafel, in die kombuis en in gedeelde gebrokenheid.

Vir jou kerkraad

Drie vrae om saam te bespreek

Aan die einde van die dag het Gerrie gesê dit is die kerkraad se taak om die predikant te beskerm teen die lae verwagtinge wat oor die jare opgebou het. Kyk saam die eerste sessie, en gebruik dan een van hierdie vrae.

  1. Skryf ons predikant se werkweek op ’n stuk papier uit. Watter van die duisendpoot-rolle het ons self bygevoeg, en watter een kan ons teruggee?
  2. Watter van die drie baadjies (CEO, pragmatiese prediker of celebrity) vra ons stilweg van ons predikant?
  3. Waar het ons die afgelope jaar gesien hoe God optree: in lyding, gebed, die erediens of verhoudings? Hoe maak ons meer ruimte daarvoor?

Lees verder

Gerrie se werk en die boeke op sy tafel

Wil jy dieper delf? Begin by Gerrie se eie werk. Sy wenk vir ’n eerste boek: Andrew Root, wat moeilike filosofie eenvoudig sê.

Van Gerrie Bodenstein

Boeke wat hy genoem het

  • The Pastor in a Secular Age

    Andrew Root · 2019

    Die naaste aan Gerrie se argument, met die afwagtende pastor in die middel. Begin hier.

  • When Church Stops Working

    Andrew Root & Blair Bertrand · 2023

    Kort en toeganklik. Goed om saam met ’n kerkraad te lees.

  • A Secular Age

    Charles Taylor · 2007

    Die groot gespreksgenoot van die dag. Meer as 800 bladsye, so lees dit saam met vriende.

  • Resonance

    Hartmut Rosa · 2019

    Oor versnelling en hoekom ’n mens weer moet leer luister. Vir die dappers.

  • In the Name of Jesus

    Henri Nouwen · 1989

    Klein boekie oor leierskap sonder die drie baadjies.

  • The Pastor: A Memoir

    Eugene Peterson · 2011

    Peterson se eie reis na eenvoudige pastorale werk.

  • Pastrix

    Nadia Bolz-Weber · 2013

    Hier kom die storie van die traumakamer vandaan.

  • Soul Searching

    Christian Smith & Melinda Lundquist Denton · 2005

    Die navorsing agter “moralistic therapeutic deism”.

  • Biografie van de dominee

    Gerben Heitink · 2001

    Die Nederlandse geskiedenis van die beroep.

  • God’s Ambassadors

    E. Brooks Holifield · 2007

    Die Amerikaanse geskiedenis van die predikant, en die “narrative of decline”.

  • Liturgy as space for anticipation

    Johan Cilliers · artikel

    Die erediens as ruimte van verwagting.

Verdien steeds jou punte

Het jy dit gemis? Kyk die opname.

Die sessie is verby, maar die leer nie. Kyk die opname, besin oor wat jy gehoor het en vul die VBO-vorm in – dan tel dit steeds vir jou 10 VBO-punte.

  1. 1

    Kyk die opname

    Die opname is oop vir almal. Kyk dit wanneer dit jou pas – alleen of saam met jou span.

  2. 2

    Besin daaroor

    Lees die nabetragting en werk deur die vrae vir die kerkraad. Wat het jou bygebly, en wat gaan jy anders doen?

  3. 3

    Vul die vorm in

    ’n Kort refleksie oor wat jy geleer het. Ons gaan dit na en laai jou 10 VBO-punte.